Twee Wonderbaarlike Geboortes

Lukas 1:1-2:40

img

11Hooggeagte Teofilus:

Baie mense het probeer om ’n verhaal op te stel oor die dinge wat onder ons gebeur het. 2Hulle het as inligtingsbron die verhale gebruik wat die eerste ooggetuies en dienaars van die Woord aan ons oorgelewer het. 3Nadat ek al hierdie verhale van voor af noukeurig ondersoek het, het ek besluit om ’n getroue samevatting daarvan vir u neer te skryf. 4Dit is om u te verseker van die betroubaarheid van alles wat u geleer is.

5Dit het alles begin by ’n Joodse priester, Sagaria, gedurende die tyd toe Herodes koning van Judea was. Hy was lid van die diensgroep van Abia. Sy vrou, Elisabet, het ook uit die priesterlyn van Aäron afgestam. 6Sagaria en Elisabet het reg gelewe voor God: hulle het al die Here se bevele en voorskrifte nagekom. 7Hulle het nie kinders gehad nie omdat Elisabet onvrugbaar was en hulle albei al oud was.

8Eendag was Sagaria besig om God in die tempel te dien, want sy diensgroep was dié week aan diens. 9Volgens die gewoonte van priesters is hy deur die lot aangewys om die heiligdom in te gaan en wierook op die altaar te brand. 10Terwyl die wierook gebrand het, het ’n groot skare buite gestaan en bid.

11Terwyl Sagaria in die heiligdom was, verskyn ’n engel van die Here aan hom, regs van die wierookaltaar. 12Sagaria het hom lam geskrik toe hy die engel sien. 13Maar die engel sê:

Gabriël

Moenie bang wees nie, Sagaria, want God het jou gebed gehoor en jou vrou, Elisabet, sal vir jou ’n seun skenk, en jy moet hom Johannes noem. 14Julle sal vreugde en jubelende blydskap hê en baie mense sal saam met julle bly wees oor sy geboorte, 15want hy sal groot wees in die oë van die Here. Hy moet nooit aan wyn of sterk drank raak nie en hy sal nog voor sy geboorte met die Heilige Gees vervul wees. 16Hy sal baie Israeliete oortuig om om te draai na die Here hulle God toe. 17Hy sal die gees en krag hê van Elia, die profeet van ouds, om voor die Here uit te gaan, om pa’s met hulle kinders te versoen, om ongehoorsames op die regte pad te bring en om só vir die koms van die Here ’n volk gereed te maak.

18Sagaria sê toe vir die engel:

Sagaria die Priester

Hoe sal ek weet dat dié dinge gaan gebeur? Ek is al ’n ou man en my vrou is ook al op gevorderde leeftyd.

19Toe sê die engel:

Gabriël

Ek is Gabriël. Ek staan in God se eie teenwoordigheid. Hy het my gestuur om die goeie nuus aan jou te bring! 20En omdat jy nie geglo het wat ek sê nie, sal jy nie kan praat nie, totdat die kind gebore is. Want my woorde sal op die bestemde tyd beslis waar word.

21Intussen het die mense vir Sagaria gewag om uit te kom, en hulle het begin wonder waarom hy so lank in die tempel bly.

22Toe hy uiteindelik uit die tempel kom, kon hy nie met hulle praat nie. Hulle het afgelei dat hy ’n gesig in die tempel gesien het. Hy het aanmekaar vir hulle beduie en stom gebly.

23Hy het by die tempel gebly totdat sy diensbeurt om was, en toe is hy huis toe. 24Kort daarna het sy vrou, Elisabet, swanger geword en sy het vir vyf maande in afsondering gegaan.

Elisabet

25Hoe goed is die Here!

het sy uitgeroep.

Elisabet

Hy het die skande van my kinderloosheid van my af weggevat!

26Toe Elisabet ses maande swanger was, het God die engel Gabriël na Nasaret, ’n dorp in Galilea, gestuur 27na ’n jong meisie met die naam Maria. Sy was verloof aan ’n man met die naam Josef, ’n afstammeling van koning Dawid. 28Gabriël het aan haar verskyn en gesê:

Gabriël

Ek groet jou, geseënde vrou! Die Here is met jou!

29Verward en ontsteld het Maria gewonder wat die engel se begroeting kon beteken.

Gabriël

30Moenie bang wees nie, Maria,

het die engel gesê,

Gabriël

want God het besluit om jou te seën! 31Jy sal swanger word en ’n seun hê en jy moet Hom Jesus noem. 32Hy sal groot wees en die Seun van die Allerhoogste genoem word. En die Here God sal Hom die troon van sy voorvader Dawid gee. 33Hy sal vir ewig oor Israel regeer; en sy koningsheerskappy sal nooit eindig nie!

34Maria het vir die engel gevra:

Maria Moeder van Jesus

Maar hoe kan ek ’n kind hê? Ek was nog nooit by ’n man nie.

35Die engel het geantwoord:

Gabriël

Die Heilige Gees sal oor jou kom en die krag van die Allerhoogste sal jou toevou. Daarom sal die kind wat gebore word, heilig en die Seun van God genoem word. 36Meer nog, jou familielid Elisabet het in haar gevorderde ouderdom swanger geword! Mense het altyd gesê sy is onvrugbaar, maar sy is al in haar sesde maand, 37want niks is onmoontlik vir God nie.

38Maria het geantwoord:

Maria Moeder van Jesus

Ek is die Here se dienares en gewillig om te aanvaar wat Hy ook al wil hê. Mag alles wat jy gesê het, waar word.

Toe het die engel weggegaan.

39’n Paar dae later het Maria haastig na die heuwelland van Judea vertrek, na die dorp waar Sagaria gewoon het. 40Sy is die huis in en het vir Elisabet gegroet. 41Met die geluid van Maria se groet, het die kindjie in Elisabet se skoot beweeg en Elisabet is met die Heilige Gees vervul.

42Sy het met ’n harde stem teenoor Maria uitgeroep:

Elisabet

Jy is bo alle ander vroue deur God geseën, en jou kind is geseënd. 43Wat ’n eer is dit dat die ma van my Here my besoek! 44Toe jy ingekom en my gegroet het, het my kindjie van vreugde beweeg die oomblik toe ek jou stem hoor! 45Jy is geseënd omdat jy vertrou het dat die Here sal doen wat Hy gesê het.

46Maria het geantwoord:

Maria Moeder van Jesus

Ek prys die Here.
47Ek juig in God my Verlosser!
48Want Hy het omgesien
na sy nederige diensmeisie,
en nou sal geslag na geslag
my geseënd noem.
49Want Hy, die magtige Een,
het groot dinge vir my gedoen.
Heilig is sy Naam!
50Sy ontferming strek
van geslag tot geslag
oor almal wat Hom eer.
51Sy kragtige arm
doen geweldige dinge!
Hy verstrooi die trotse
en hooghartige mense!
52Hy het prinse onttroon
en nederiges verhef.
53Hy het dié wat gebrek ly,
met goeie dinge versadig,
en die rykes
met leë hande weggestuur.
54Hy het sy dienaar Israel gehelp!
Hy het nie sy belofte vergeet
om ontferming te bewys nie.
55Want Hy het ons voorvaders
beloof
– vir Abraham en sy kinders –
om vir altyd goed te wees
teenoor hulle.

56Maria het omtrent drie maande by Elisabet gebly en toe is sy huis toe.

57Toe die tyd aangebreek het vir Elisabet se kind om gebore te word, het sy ’n seun in die wêreld gebring. 58Die nuus het vinnig onder haar bure en familie versprei dat die Here Hom oor haar ontferm het en almal was saam met haar bly. 59Toe die kindjie agt dae oud was, het al die familie en vriende bymekaargekom vir sy besnydenis. Hulle wou hom Sagaria noem, na sy pa. 60Maar Elisabet het gesê:

Elisabet

Nee! Sy naam is Johannes!

Elisabet se Bure

61Maar daar is dan niemand in jou familie met die naam nie,

het hulle gesê. 62Met gebare vra hulle toe die kindjie se pa. 63Daarop beduie hy dat ’n skryfbordjie gebring moet word, en tot almal se verbasing skryf hy: “Sy naam is Johannes!”

64Hy kon dadelik weer praat, en hy het God onmiddellik begin prys.

65Die hele buurt is met ontsag vervul en die nuus oor wat gebeur het, het oral deur die Judese heuwelland versprei. 66Almal wat daarvan gehoor het, het daaroor nagedink en gevra:

Mense in Judea

Wat sal eendag van hierdie kindjie word?

Want die hand van die Here was duidelik op hom.

67Sy pa, Sagaria, is hierna met die Heilige Gees vervul en het as profeet gesê:

Sagaria die Priester

68Prys die Here,
die God van Israel,
want Hy het sy volk opgesoek
en hulle gered.
69Hy het vir ons
’n magtige Redder gestuur
uit die koninklike geslag
van sy dienaar Dawid,
70soos Hy lank gelede
deur sy heilige profete
beloof het.
71Nou sal ons van ons vyande
gered word
en van almal wat ons haat.
72Hy was genadig
teenoor ons voorvaders
en Hy het sy heilige verbond
met hulle onthou,
73die eed wat Hy teenoor Abraham
ons voorvader gesweer het
dat Hy sou sorg dat ons,
74gered van ons vyande,
Hom sonder vrees kan dien
75in toewyding en geregtigheid
vir altyd.
76En jy, kindjie,
sal ’n profeet
van die Allerhoogste
genoem word,
want jy sal die pad
van die Here voorberei.
77Jy sal sy volk vertel
hoe om verlos te word:
deurdat hulle sonde
vergewe word.
78Vanweë God
se tere ontferming
is die lig van die hemel
op die punt om oor ons te skyn,
79om lig te bring aan hulle
wat in donkerheid
en die skaduwee
van die dood lewe,
en om ons te lei
op die pad van vrede.

80Johannes het groot en sterk geword in die Gees. Hy het in die woestyn gewoon totdat hy sy bediening onder Israel begin het.

21Gedurende daardie tyd het die Romeinse keiser Augustus ’n bevel uitgevaardig dat ’n sensus deur die hele Romeinse Ryk gehou moes word. 2Dit was die eerste sensus wat gehou is toe Sirenius goewerneur van Sirië was.

3Almal het teruggegaan na hulle eie dorpe om vir die sensus te registreer. 4En omdat Josef ’n afstammeling van koning Dawid was, moes hy vanaf die dorp Nasaret in Galilea na Judea gaan, na Betlehem, Dawid se tuisdorp. 5Hy het sy verloofde, Maria, wat swanger was, saamgeneem om te gaan registreer.

6Terwyl hulle daar was, het die tyd aangebreek dat haar kind gebore moes word. 7Sy het geboorte gegee aan haar eerste Kind, ’n seun. Sy het Hom in doeke toegedraai en Hom in ’n krip neergelê omdat daar vir hulle geen plek in die herberg was nie.

8Daardie nag was daar skaapwagters wat in die veld buite die dorpie hulle skape opgepas het. 9Skielik het ’n engel van die Here aan hulle verskyn en die glans van die Here het om hulle geskyn. Hulle het vreeslik bang geword, 10maar die engel het hulle gerusgestel:

’n Engel

Moenie bang wees nie!

het hy gesê.

’n Engel

Ek bring vir julle goeie nuus wat groot blydskap vir almal inhou! 11Die Verlosser – ja, die Messias, die Here – is vannag in Betlehem, die tuisdorp van Dawid, gebore! 12En dit is hoe julle Hom sal herken: Julle sal ’n Kindjie vind wat in ’n krip lê en in doeke toegedraai is!

13Skielik was daar saam met die engel ’n groot menigte ander engele, ’n leërskare uit die hemel, wat God prys:


’n Leërskare van Engele

14Eer aan God in die hoogste
hemel,
en vrede op aarde
vir almal in wie Hy
’n welbehae het.

15Toe die engele teruggegaan het na die hemel, sê die skaapwagters vir mekaar:

Herders naby Betlehem

Kom ons gaan Betlehem toe om te sien watter wonderlike ding gebeur het, soos die Here dit aan ons bekendgemaak het.

16Hulle het toe na die dorp toe gehardloop en vir Maria en Josef gekry, en die Kindjie wat in die krip lê. 17Toe het die skaapwagters vir almal gaan vertel wat gebeur het, en wat die engel vir hulle oor die Kindjie gesê het.

18Almal wat die skaapwagters se verhaal gehoor het, was verbaas, 19maar Maria het stilweg hierdie dinge in haar hart bewaar en dikwels daaroor nagedink. 20Die skaapwagters het teruggegaan na die veld en hulle kuddes terwyl hulle God loof en prys oor wat die engele vir hulle vertel het, en omdat hulle die Kind gesien het, net soos die engel gesê het.

21Agt dae later, toe die tyd aangebreek het om die kindjie te besny, is Hy Jesus genoem. Dit is die naam wat die engel nog voordat Hy verwek is aan Hom gegee het. 22Daarna was dit tyd vir die reinigingsoffer, soos die wet van Moses ná die geboorte van ’n kind vereis het; daarom het sy ouers Hom na Jerusalem toe gevat om Hom aan die Here te wy. 23Die wet van die Here sê: “As ’n vrou se eerste kind ’n seun is, moet hy aan die Here gewy word.” 24Hulle het ’n offer gebring volgens wat die wet van die Here vereis het: “óf ’n paar tortelduiwe óf twee jong duiwe.”

25Daar was ’n man met die naam Simeon wat in Jerusalem gewoon het. Hy was wetsgetrou en baie toegewyd. Hy was met die Heilige Gees vervul en het gretig uitgesien na Israel se bevryding. 26Die Heilige Gees het aan hom bekendgemaak dat hy nie sou sterf voordat hy die Gesalfde van die Here gesien het nie. 27Daardie dag het die Gees hom na die tempel toe gelei. Toe Maria en Josef opdaag om die Kindjie Jesus aan die Here te wy, soos die wet vereis het, 28was Simeon daar. Hy het die Kind in sy arms geneem en God geprys:

Simeon

29Here, nou kan u dienskneg
in vrede sterf
soos U my beloof het,
30want ek het die verlossing gesien
31wat U voorberei het
voor die oë van alle volke,
32’n lig om God aan die nasies
bekend te maak,
en die glorie van u volk Israel!

33Josef en Maria was verbaas oor wat van Jesus gesê is. 34Toe het Simeon hulle geseën en vir Maria gesê:

Simeon

Hierdie Kind is bestem tot ’n val en opstanding van baie in Israel, en ’n teken wat weerspreek sal word. Hy sal ’n teken wees waaroor mense sal verskil. 35So sal die diepste gedagtes van baie harte bekend word. Maar wat jou betref – daar sal ’n swaard deur jou siel gaan.

36Anna, ’n profetes, was ook daar in die tempel. Sy was die dogter van Fanuel uit die stam van Aser, en sy was baie oud. Sy was ’n weduwee; haar man is oorlede toe hulle nog maar net sewe jaar getroud was. 37Sy was nou 84 jaar oud. Sy was nooit weg van die tempel af nie en het dag en nag daar gebly en God gedien met vas en gebed. 38Sy het daar aangekom net toe Simeon met Maria en Josef gepraat het, en sy het God begin prys. Sy het oor Jesus gepraat met almal wat verlang het na die bevryding van Jerusalem.

39Toe Jesus se ouers al die vereistes van die wet van die Here nagekom het, het hulle teruggekeer na hulle dorp, Nasaret in Galilea. 40Daar het die Kindjie sterk en gesond grootgeword. Hy was vervul met wysheid, en God se guns was op Hom.

imgimg

Vergelyking, Kontras & Repitisie

  • Om the vergelyk is om assosiasies te maak tussen twee of meer soortgelyke persone, idees of situasies. Kan jy enige vergelykings ontdek wat deur die skrywer van die storie gemaak is? Hoekom dink jy sou die skrywer hierdie vergelykings maak?
  • Om te kontrasteer is om die verskille tussen twee of meer persone, idees en situasies waar te neem. Kan jy enige waarnemings ontdek wat deur die skrywer van die storie gemaak is? Hoekom dink jy sou die skrywer van die storie hierdie kontraste maak?
  • Neem 'n oomblik om enige woorde of konsepte wat in die verhaal herhaal word, waar te neem.
  • Neem 'n oomblik om te reageer op wat jy ontdek het deur hierdie vergelykings, kontraste & repitisies deur 'n kort gebed aan God te skryf.
AFRIKAANS

© 2018 SourceView LLC.
11