7:1-8:56

img

71Toe Jesus al die dinge klaar gesê het, het Hy na Kapernaum toe teruggegaan. 2’n Romeinse offisier oor honderd het ’n slaaf gehad wat siek en sterwend was. Die slaaf was vir hom baie werd. 3Die offisier het van Jesus te hore gekom en ’n paar gerespekteerde Joodse leiers na Hom gestuur om te vra dat Hy die slaaf gesond sal kom maak.

4Hulle het ernstig by Jesus aangedring om saam met hulle te kom en die man te help.

Sommige Ouderlinge

As enigiemand u hulp verdien, dan is dit hý,

het hulle gesê,

Sommige Ouderlinge

5want hy het die Jode lief en het selfs ’n sinagoge vir ons gebou.

6Jesus het dus saam met hulle gegaan. Maar net voordat hulle by die huis aangekom het, het die offisier ’n paar vriende gestuur om te sê:

’n Romeinse Offisier se Vriende

Here, moenie moeite doen om na my huis toe te kom nie, want ek verdien nie so ’n eer nie. 7Ek is nie eers waardig om U te kom ontmoet nie. Sê maar net ’n woord, en my slaaf sal gesond word. 8Ek weet, want ek staan onder die gesag van my bevelvoerende offisiere, en ek voer gesag oor my soldate. Ek hoef net te sê: ‘Gaan,’ en hulle gaan: of ‘Kom,’ en hulle kom. En as ek vir my slawe sê: ‘Doen dit of dat,’ dan doen hulle dit.

9Toe Jesus dit hoor, het Hy Hom oor die man verwonder. Hy draai toe om na die skare wat Hom volg, en sê:

Jesus

Ek sê vir julle, selfs in Israel het Ek nie só ’n geloof teëgekom nie!

10En toe die offisier se vriende by die huis terugkom, was die slaaf heeltemal gesond.

Jesus wek ’n weduwee se enigste

seun en steunpilaar op

11Kort hierna het Jesus en sy dissipels na die dorp Nain gegaan met ’n groot skare wat Hom volg. 12Toe Jesus die dorpsingang nader, het ’n begrafnisstoet uitgekom. Die jong man wat gesterf het, was die enigste seun van ’n weduwee, en baie rouklaers van die dorp was saam met haar. 13Toe die Here haar sien, het Hy haar innig jammer gekry.

Jesus

Moenie huil nie!

het Hy gesê.

14Toe het Hy na die draagbaar toe geloop en daaraan geraak, en die draers het gaan staan.

Jesus

Jong man,

het Hy gesê,

Jesus

Ek sê vir jou, staan op!

15Toe het die dooie regop gesit en met die mense om hom begin praat! En Jesus het hom aan sy ma teruggegee.

16Groot vrees het die skare oorweldig – hulle het God geprys en gesê:

Mense in Nain

’n Magtige profeet het onder ons opgestaan!

en:

Mense in Nain

God het besluit om na sy mense om te sien!

17Die berig oor wat Jesus die dag gedoen het, het deur die hele Judea en selfs oor die grense heen versprei.

Johannes vra of Jesus werklik

die Messias is

18Johannes die Doper se dissipels het hom alles vertel wat Jesus gedoen het. Johannes het dus twee van sy dissipels geroep 19en hulle na die Here toe gestuur om te vra:

Johannes die Doper

Is U die Messias wat ons verwag, of moet ons iemand anders verwag?

20Johannes die Doper se twee dissipels het Jesus gekry en vir Hom gesê:

Johannes se Dissipels

Johannes die Doper het ons gestuur om te vra: ‘Is U die Messias wat ons verwag, of moet ons iemand anders verwag?’

21Op daardie oomblik het Jesus baie mense van verskeie siektes genees, en Hy het bose geeste uitgewerp en blindes se sig herstel.

22Hy het vir Johannes se dissipels gesê:

Jesus

Gaan terug na Johannes, en vertel hom wat julle gesien en gehoor het – blindes sien, verlamdes loop, mense met ernstige velsiektes word genees, dowes hoor, dooies word tot die lewe opgewek, en die Goeie Nuus word aan die armes verkondig. 23En sê vir hom: ‘Gelukkig is hulle wat nie aan My aanstoot neem nie.’

24Nadat hulle weg is, het Jesus met die skare oor Johannes gepraat.

Jesus

Wie is hierdie man in die woestyn na wie julle gaan kyk het? Het julle hom soos ’n riet gevind wat deur elke windvlagie beweeg word? 25Of het julle verwag om ’n man geklee in deftige klere te sien? Nee, mense wat mooi klere dra en in luuksheid lewe, word in paleise gevind, nie in die woestyn nie. 26Het julle na ’n profeet gesoek? Ja, en hy is meer as ’n profeet. 27Johannes is die man na wie die Skrif verwys wanneer dit sê:
‘Kyk, Ek stuur my boodskapper
voor jou uit,
en hy sal die pad voor jou
gereedmaak.’
28Ek sê vir julle, van almal wat ooit geleef het, is niemand groter as Johannes nie. Tog is selfs die geringste persoon in die koninkryk van God groter as hy!

29Toe hulle dit hoor, het al die mense, ook die tollenaars, saamgestem dat God se plan reg was, want hulle is deur Johannes gedoop. 30Maar die Fariseërs en wetskenners het God se plan vir hulle verwerp, want hulle het geweier om deur Johannes gedoop te word.


Jesus

31Hoe sal Ek hierdie geslag mense beskryf?

het Jesus gevra.

Waarmee sal Ek hulle vergelyk? 32Hulle is soos ’n groep kinders wat ’n spel op die dorpsplein speel. Hulle kla teenoor hulle vriende:

JEsus

‘Ons het vir julle
’n bruilofslied gespeel,
maar julle
wou nie dans nie.
Ons het ’n begrafnislied gesing,
maar julle het geweier
om te huil.’
33Want Johannes die Doper het soos ’n askeet gelewe – nie wyn gedrink nie en dikwels gevas – en julle sê: ‘Hy is van die duiwel besete.’
34En Ek, die Seun van die Mens, hou van gesellige maaltye – Ek eet en drink – en julle sê: ‘Hy is ’n vraat en ’n dronkaard, en ’n vriend van die slegste soort sondaars!’ 35Maar die wysheid kom tot sy reg in die lewe van hulle wat dit navolg.

36Een van die Fariseërs het Jesus na sy huis genooi vir ’n maaltyd, en Jesus het dit aanvaar en aangelê om te eet.

37En kyk, ’n sekere vrou van losse sedes het gehoor dat Hy daar is en het ’n albaste fles met duur aromatiese olie gebring. 38Sy het agter Jesus gekniel, by sy voete, en gehuil. Haar trane het op sy voete geval en sy het dit met haar hare afgevee. Sy het sy voete bly soen en die aromatiese olie daaraan gesmeer.

39Toe die Fariseër wat die gasheer was, sien wat gebeur en wie die vrou is, het hy vir homself gesê:

Simon die Fariseër

Dit bewys dat Jesus geen profeet is nie. As God hom werklik gestuur het, sou hy geweet het watter soort vrou hom aanraak. Sy is ’n sondaar!

40Jesus het toe gereageer en vir Simon geantwoord.

Jesus

Simon,

het Hy vir die Fariseër gesê,

Jesus

Ek het iets om vir jou te sê.

Simon die Fariseër

Reg, Meneer,

het Simon geantwoord,

sê maar.

41Jesus vertel hom toe die volgende verhaal:

Jesus

’n Man het vir twee mense geld geleen – 500 rand vir die een, en 50 vir die ander. 42Maar nie een van die twee kon hom terugbetaal nie; hy het dus maar al twee oorgesien en hulle skuld afgeskryf. Wie dink jy het hom daarna die meeste liefde bewys?

43Simon het geantwoord:

Simon die Fariseër

Ek veronderstel die een vir wie hy die meeste skuld afgeskryf het.

Jesus

Dis reg,

het Jesus gesê. 44Hy het toe na die vrou gedraai en vir Simon gesê:

Jesus

Kyk na hierdie vrou. Toe Ek jou huis ingekom het, het jy My nie water aangebied om die stof van my voete af te was nie, maar sy het hulle met haar trane gewas en met haar hare afgedroog. 45Jy het My nie met ’n soen verwelkom nie, maar sy het my voete weer en weer gesoen vandat Ek hier ingekom het. 46Jy het nie my kop met gewone olyfolie gesalf nie, maar sy het my voete met kosbare olie gesalf. 47Ek sê vir jou, haar sondes – en dit is baie – is vergewe, omdat sy baie liefde aan My bewys het. Maar iemand vir wie min sondes vergewe is, betoon maar min liefde!

48Toe sê Jesus vir die vrou:

Jesus

Jou sondes is vergewe.

49Die mans aan tafel sê toe onder mekaar:

Sommige mense in Simon se huis

Wie dink hierdie man is hy om rond te gaan en sondes te vergewe?

50En Jesus sê vir die vrou:

Jesus

Jou geloof het jou gered; gaan in vrede.

81Nie lank hierna nie het Jesus begin met ’n reis deur al die dorpe en kleiner plekkies om die Goeie Nuus oor die koningsheerskappy van God bekend te maak. Hy het sy twaalf dissipels saamgeneem, 2asook ’n paar vroue wat Hy gesond gemaak het en uit wie Hy bose geeste gedryf het. Onder hulle was Maria Magdalena uit wie Hy sewe bose geeste gedryf het, 3Johanna, die vrou van Gusa, Herodes se sakebestuurder, Susanna en baie ander wat uit hulle eie middele bygedra het om Jesus en sy dissipels te onderhou.

Die gelykenis van die boer en sy

saad

4Eendag het Jesus hierdie gelykenis vertel aan ’n groot skare wat uit baie dorpe gekom het om na Hom te luister:

Jesus

5’n Boer het uitgegaan om saad te saai. Terwyl hy dit oor die land gestrooi het, het ’n deel op ’n voetpad geval waarop getrap word en die voëls het dit kom eet. 6’n Ander deel het in vlak grond op ’n klipbank geval. Hierdie saad het begin groei, maar het gou verlep en verdroog omdat daar nie vog was nie. 7Nog ’n deel het geval waar dorings opgeskiet en die nuwe blare versmoor het. 8En ’n ander deel het in vrugbare grond geval. Hierdie saad het gegroei en het ’n oes gelewer 100 maal soveel as wat geplant is.

Toe Hy dit sê, roep Hy uit:

Jesus

Enigeen wat wil hoor, moet luister en verstaan!

9Sy dissipels het Hom gevra wat die gelykenis beteken. 10Hy het geantwoord:

Jesus

God het dit aan julle gegee om die geheime van sy koningsheerskappy te verstaan. Maar vir buitestanders is die gelykenisse raaisels, sodat dit waar word wat die Skrif sê:
‘Hulle sien wat Ek doen,
maar eintlik sien hulle nie;
hulle hoor wat Ek sê,
maar hulle verstaan nie.’
11Die betekenis van die gelykenis is dit: Die saad is God se boodskap. 12Die saad wat op die harde pad geval het, is die mense wat die boodskap hoor, maar dan kom die duiwel en steel dit en verhoed hulle om te glo en verlos te word.
13Die klipperige grond is mense wat die boodskap met blydskap aanhoor. Maar soos jong plantjies in sulke grond het hulle nie diep wortels nie. Hulle glo wel vir ’n rukkie, maar hulle verlep wanneer die warm winde van beproewing waai.
14Die saad tussen die onkruid is mense wat die boodskap hoor en ook aanvaar, maar tog te gou word dit verdring deur die sorge en rykdom en plesiere van hierdie lewe. En só groei hulle nooit tot volwassenheid nie.
15Maar die saad wat in goeie grond val, is mense met ’n goeie en opregte hart wat God se boodskap hoor, daaraan vashou en konstant ’n groot oes oplewer.”
Wat geheim is, sal bekend word
16Niemand steek ’n lamp op en maak dit dan met iets toe of sit dit onder ’n bed nie. Nee, lampe word op ’n lampstaander geplaas waar mense wat ’n huis binnekom, dit kan sien. 17Want alles wat weggesteek is, sal sigbaar word en alles wat geheim is, sal uiteindelik aan die lig kom vir almal om te sien. 18Gee daarom aandag aan wat jy hoor. Aan dié wat hulle oopstel vir my lering, sal groter begrip gegee word. Maar dié wat nie luister nie, van hulle sal selfs dit wat hulle dink hulle het, weggeneem word.


19Eenkeer toe Jesus se ma en broers gekom het om Hom te besoek, kon hulle vanweë die skare nie by Hom uitkom nie. 20Iemand het vir Jesus gesê:

Iemand in Kapernaum

U ma en broers is hier buite en wil U graag sien.

21Jesus het geantwoord:

Jesus

My ma en broers is al die mense wat die boodskap van God hoor en dit gehoorsaam.

Jesus kalmeer ’n storm

22Eendag het Jesus vir sy dissipels gesê:

Jesus

Kom ons vaar oor na die ander kant van die meer.

Hulle het in ’n skuit geklim en begin oorvaar. 23Op pad oorkant toe het Jesus gaan lê om te slaap, en terwyl Hy slaap, het die wind begin opsteek. ’n Hewige storm het losgebars wat hulle wou laat ondergaan. Hulle was in lewensgevaar.

24Die dissipels het Hom wakker geskud en geskree:

Die Dissipels

Leermeester, ons is besig om onder te gaan!

Jesus het die siedende wind en golwe bestraf. Die storm het bedaar en alles was weer kalm. 25Toe vra Hy vir hulle:

Jesus

Waar is julle geloof?

En hulle was vervul met ontsag en verbasing. Hulle het vir mekaar gesê:

Die Dissipels

Wie is hierdie Man tog dat Hy selfs die wind en die golwe opdrag gee en hulle Hom gehoorsaam?

26Hulle het toe in die land van die Geraseners aangekom, aan die oorkant van die See van Galilea. 27Terwyl Jesus uit die skuit klim, het ’n man wat van duiwels besete was en vroeër in die plaaslike dorp gewoon het, na Hom toe gekom. Hy was kaal en het nie ’n huis gehad nie; hy het vir ’n lang tyd in ’n begraafplaas gebly. 28Net toe hy Jesus sien, het hy gegil en op die grond voor Hom geval en geskreeu:

Man wat deur Legio besit was

Waarom steur U my, Jesus, Seun van die allerhoogste God? Asseblief, ek smeek U, moet my nie martel nie!

29Want Jesus het alreeds die bose gees beveel om hom te verlaat. Die gees het hom dikwels beetgepak. Selfs al was hy met kettings geboei, het hy dit eenvoudig gebreek en in die woestyn ingehardloop, heeltemal in die mag van die bose gees.

Jesus

30Wat is jou naam?

het Jesus gevra.

Man wat deur Legio besit was

Legio,

het hy geantwoord, want hy was van baie bose geeste besete. 31Die bose geeste het Jesus aanhou smeek om hulle nie na die onderaardse diepte te stuur nie. 32’n Groot trop varke het teen die berghang daar naby gewei, en die bose geeste het gesmeek om in die varke in te vaar. Jesus het hulle toegelaat. 33Die bose geeste het toe uit die man uitgekom en in die varke gevaar, en die hele trop het teen die hang afgestorm die see in en versuip.

34Toe die wagters dit sien, het hulle na die dorp daar naby en sy omliggende gebiede gehardloop en die nuus versprei so ver hulle gehardloop het. 35Daar het gou ’n skare rondom Jesus vergader, want hulle wou self sien wat gebeur het. Hulle het die man wat voorheen van duiwels besete was, by Jesus se voete sien sit, geklee en by sy volle verstand; en die hele skare het bang geword. 36Toe het die mense wat gesien het wat gebeur het, die ander vertel hoe die duiwelbesete man genees is. 37En al die mense in daardie omgewing het Jesus gesmeek om weg te gaan en hulle uit te los, want groot vrees het hulle beetgepak.

Jesus het toe in die skuit geklim en na die oorkant van die meer teruggekeer. 38Die man wat van duiwels besete was, het gesoebat om ook saam te gaan, maar Jesus het gesê:

Jesus

39Nee, gaan terug na jou familie toe en vertel vir hulle al die wonderlike dinge wat God vir jou gedoen het.

Hy het toe deur die hele dorp loop en vertel watter groot ding Jesus vir hom gedoen het.

Jesus maak ’n vrou gesond wat

aan chroniese bloeding ly, en

wek ’n dogtertjie op

40By sy terugkeer het die skares Jesus met ope arms ontvang omdat hulle vir Hom gewag het. 41’n Man met die naam Jaïrus, ’n leier van die plaaslike sinagoge, het gekom en voor Jesus se voete neergeval en Hom gesoebat om saam met hom na sy huis te gaan. 42Sy enigste kind, ’n dogter van twaalf, was sterwend.

Terwyl Jesus saam met hom gegaan het, is Hy deur skares omring. 43Daar was ’n vrou in die skare wat twaalf jaar lank aan chroniese bloeding gely het. Sy het alles wat sy gehad het, aan dokters bestee, maar kon nie genees word nie. 44Sy het van agter na Jesus gekom en die soom van sy kleed aangeraak. Onmiddellik het die bloeding gestop.

Jesus

45Wie het My aangeraak?

het Jesus gevra.

Almal het dit ontken, en Petrus het gesê:

Simon Petrus

Meneer, die hele skare stoot en druk voortdurend teen U.

46Maar Jesus het vir hom gesê:

Jesus

Nee, iemand het My opsetlik aangeraak, want Ek het genesende krag uit My voel vloei.

47Toe die vrou besef dat Jesus weet, het sy begin bewe en op haar knieë voor Hom neergeval. Die hele skare het haar hoor vertel waarom sy Hom aangeraak het en hoe sy onmiddellik gesond geword het. 48

Jesus

Dogter,

het Hy vir haar gesê,

Jesus

jou geloof het jou genees. Gaan in vrede.

49Terwyl Hy nog met haar praat, het ’n boodskapper van Jaïrus se huis af gekom met die nuus:

Jarïus se Boodskapper

Jou dogter is dood. Dis nie meer nodig om die Leermeester te pla nie.

50Maar toe Jesus hoor wat gebeur het, sê Hy vir Jaïrus:

Jesus

Moenie jou ontstel nie. Vertrou My net en dit sal goed gaan met haar.

51Toe hulle by die huis aankom, wou Jesus niemand saam met Hom laat ingaan nie, behalwe Petrus, Jakobus en Johannes, en die dogtertjie se pa en ma. 52Die huis was vol mense wat gehuil en getreur het, maar Jesus sê:

Jesus

Hou op huil! Sy is nie dood nie; sy slaap net.

53Die skare het Hom uitgelag, want almal het geweet sy is dood. 54Jesus vat haar toe aan die hand en sê hardop:

Jesus

Staan op, my kind!

55En op daardie oomblik het die lewe in haar teruggekom, en sy het onmiddellik opgestaan! Jesus vra hulle toe om haar iets te ete te gee. 56Haar ouers was oorstelp, maar Jesus het daarop aangedring dat hulle niemand vertel wat gebeur het nie.

imgimg

AFRIKAANS

© 2018 SourceView LLC.
11