13:10-15:32

img

1310Een Sabbatdag, terwyl Jesus in die sinagoge onderrig gegee het, 11het Hy ’n vrou gesien wat deur ’n bose gees inmekaargetrek is. Sy was vir agtien jaar lank kromgetrek en kon nie regop staan nie. 12Toe Jesus haar sien, roep Hy haar nader en sê:

Jesus

Vrou, jy is van jou kwaal genees!

13Toe het Hy haar aangeraak en sy kon dadelik regop staan. Hoe het sy God nie geloof en gedank nie!

14Maar die hoof van die sinagoge was verontwaardig dat Jesus haar op die Sabbatdag genees het.

’n Leier van die Sinagoge

Daar is ses dae van die week om te werk,

het hy vir die skare gesê.

’n Leier van die Sinagoge

Kom op daardie dae om genees te word, nie op die Sabbat nie.

15Maar die Here antwoord hom:

Jesus

Julle huigelaars! Julle werk op die Sabbatdag! Wie van julle maak nie op die Sabbat julle os of donkie los in die stal en lei hom uit om te drink nie? 16Was dit nie vir My nodig, selfs op die Sabbatdag, om hierdie arme vrou te bevry van die gevangenskap waarin Satan haar vir agtien jaar gehou het nie?

17Dit het sy vyande laat skaam kry. En al die mense was verheug oor die wonderlike dinge wat Hy gedoen het.

18Toe het Jesus gesê:

Jesus

Hoe lyk die koningsheerskappy van God? Hoe kan Ek dit illustreer?19“Dit is soos ’n klein mosterdsaadjie wat in ’n tuin geplant is; dit groei en word ’n boom, en die voëls kom en vind skuiling in sy takke.

20Hy het ook gevra:

Jesus

Soos wat is die koningsheerskappy van God nog? 21Dis soos suurdeeg wat ’n vrou gebruik om brood te bak. Alhoewel sy ’n groot klomp meel gebruik, het die suurdeeg elke deel van die deeg deurtrek.

22Jesus het deur die dorpe en kleiner plekkies beweeg en terselfdertyd mense geleer terwyl Hy steeds na Jerusalem reis. 23Iemand het Hom gevra:

Iemand op die pad

Here, sal net ’n paar mense verlos word?

Hy het geantwoord:

Jesus

24Die deur na die koninkryk van God is nou. Werk hard om in te gaan, want baie sal probeer ingaan, maar dit nie regkry nie. 25Wanneer die eienaar die deur gesluit het, sal julle buite staan en aan die deur klop en smeek: ‘Here, maak vir ons oop!’ Maar Hy sal antwoord: ‘Ek weet nie waar julle vandaan kom nie.’ 26Julle sal sê: ‘Maar ons het dan saam met U geëet en gedrink, en U het in ons strate onderrig.’ 27En Hy sal antwoord: ‘Ek sê vir julle, Ek weet nie waar julle vandaan kom nie. Gaan weg, julle almal wat kwaad doen.’28En daar sal groot gehuil en gekners van tande wees, want julle sal vir Abraham, Isak, Jakob en al die profete in die koninkryk van God sien, maar julle sal uitgegooi word. 29Dan sal mense van oral oor die wêreld kom om hulle feesplekke in te neem in die koninkryk van God. 30En onthou: party wat nou verag word, sal dan grootliks vereer word; en party wat nou grootliks vereer word, sal dan verag word.

31’n Paar minute later het sommige Fariseërs vir Hom gesê:

Die Fariseërs

Gee pad hier as jy wil lewe, want Herodes Antipas wil jou doodmaak!

32Jesus het geantwoord:

Jesus

Gaan sê vir daardie jakkals dat Ek sal aanhou om vandag en môre duiwels uit te dryf en genesingswonders te doen, en op die derde dag sal Ek my doel bereik. 33Ja, vandag, môre, en die volgende dag moet Ek voortgaan op my reis. Want dit sal ondenkbaar wees dat ’n profeet van God op ’n ander plek as in Jerusalem doodgemaak word!
34O Jerusalem, Jerusalem, stad wat die profete doodmaak en God se boodskappers stenig! Hoe dikwels wou Ek jou kinders bymekaarmaak soos ’n hen wat haar kuikens onder haar vlerke beskerm, maar julle wou My nie toelaat nie. 35En kyk, nou word julle huis vir julle leeg agtergelaat. En julle sal My nie weer sien nie totdat julle sal sê: ‘Geseënd is die een wat kom in die Naam van die Here!’

141Een Sabbatdag het Jesus vir ’n ete-uitnodiging by die huis van ’n leier van die Fariseërs aangekom. Die mense het Hom fyn dopgehou, 2want daar was ’n man wie se arms en bene geswel was. 3Jesus vra toe die Fariseërs en wetskenners:

Jesus

Wel, is dit volgens wet toelaatbaar om mense op die Sabbatdag gesond te maak, of nie?

4Toe hulle stilbly, het Jesus die siek man aangeraak, hom genees en huis toe gestuur. 5Toe het Hy na hulle gedraai en gevra:

Jesus

Wie van julle werk nie op die Sabbat nie? As jou seun of bees in ’n put val, sal jy hom nie dadelik daar uithaal nie?

6Weer kon hulle geen antwoord hierop gee nie.

7Toe Jesus sien dat almal wat na die ete genooi was, naby die kop van die tafel probeer sit, het Hy hulle hierdie raad gegee:

Jesus

8As julle na ’n bruilof genooi word, moenie altyd die beste plek uitsoek nie. Wat as daar iemand belangriker as jy ook genooi is? 9Die gasheer sal sê: ‘Laat hierdie persoon asseblief hier sit.’ Dan sal jy met ’n rooi gesig opnuut moet plek soek – aan die end van die tafel!
10Maak liewer so – sit aan die end van die tafel. Dan, wanneer die gasheer jou sien, sal hy kom en sê: ‘Vriend, ons het ’n beter plek as dit vir jou!’ Dan sal jy voor al die ander gaste vereer word; 11want die hoogmoediges sal verneder word, maar die nederiges sal vereer word.

12Toe draai Hy na sy gasheer.

Jesus

Wanneer jy ’n middag- of aandete gee,

het Hy gesê,

Jesus

moenie jou vriende, broers, familie en ryk bure nooi nie. Want hulle sal jou beloon deur jou terug te nooi. 13Nooi liewer die armes, kreupeles, verlamdes en blindes. 14Jy sal geseënd wees, want by die opstanding van die godvresendes sal God jou beloon omdat jy hulle wat jou nie kon beloon nie, genooi het.

15Toe hy dit hoor, het ’n man wat saam met Jesus aan tafel was, uitgeroep:

’n Gas by die maaltyd

Wat ’n voorreg sal dit wees om deel te hê aan die feesmaal in die koninkryk van God!

16Maar Jesus het hom geantwoord:

Jesus

’n Man het ’n groot feesmaal voorberei en baie uitnodigings uitgestuur. 17Toe alles gereed was, het hy ’n slaaf rondgestuur om die gaste te laat weet dat hulle maar kan kom. 18Maar hulle het almal begin verskoning maak. Een het gesê hy het pas ’n stuk grond gekoop en wou daarna gaan kyk. Hy vra dus om verskoon te word. 19’n Ander een het gesê hy het nou net vyf paar osse gekoop en wil hulle gaan probeer. 20’n Ander een was pas getroud, en het gesê hy kon nie kom nie.
21Die slaaf het toe teruggekom en aan sy baas vertel wat hulle gesê het. Die baas het kwaad geword en sê toe: ‘Gaan gou in die strate en stegies van die stad en nooi die armes, die kreupeles, die verlamdes en blindes.’ 22Nadat die slaaf dit gedoen het, het hy gerapporteer: ‘Daar is plek vir nog meer.’ 23Sy baas sê toe: ‘Gaan uit op die paaie en lanings en dring aan by enigiemand wat jy teëkom om te kom sodat my huis vol kan word. 24Want ek sê vir julle, niemand van dié wat genooi is, sal selfs die kleinste proeseltjie smaak van wat ek vir hulle voorberei het nie.’

25Groot skares het Jesus gevolg. Hy het omgedraai en vir hulle gesê:

Jesus

26As iemand na My toe kom, moet jy My liewer hê as jou eie pa en ma, vrou en kinders, broers en susters, en ook nie jou eie lewe gering ag nie. Anders kan jy nie my dissipel wees nie. 27En jy kan nie my dissipel wees as jy nie jou eie kruis dra en My volg nie
28Moenie eers begin voordat jy die koste bereken het nie. Want wie sal met die oprigting van ’n gebou begin sonder om eers kwotasies te kry en te sien of daar genoeg geld is om die rekeninge te betaal? 29Anders kan jy dalk net die fondament voltooi voordat die geld opraak. En dan sal almal mos vir jou lag! 30Dan sal hulle sê: ‘Daardie kêrel het mooi begin bou, maar sy geld was op nog lank voordat hy klaar was.’
31Of watter koning sal ooit droom om oorlog toe te gaan voordat hy saam met sy raadgewers gaan sit en beplan het of hy met sy 10 000 man sterk genoeg is om die aankomende 20 000 soldate te verslaan? 32As hy nie kan nie, sal hy, terwyl die vyand nog ver is, ’n afvaardiging stuur om vredesvoorstelle te maak. 33Só kan niemand my dissipel word sonder om alles vir My prys te gee nie.
34Sout is goed om smaak te gee. Maar as dit sy smaak verloor het, hoe kry ’n mens dit weer sout? 35Smaaklose sout is selfs nie goed vir die grond of vir bemesting nie. Dit word weggegooi. Enigeen wat gewillig is om te hoor, moet luister en verstaan!

151Tollenaars en ander sondaars het dikwels na Jesus se onderrig kom luister. 2Fariseërs en wetskenners het beswaar gemaak dat Hy met veragtelike mense geassosieer het – en selfs saam met hulle geëet het!

3Jesus het toe hierdie gelykenis vertel:

Jesus

4As jy 100 skape het en een het verdwaal en verlore geraak, sal jy nie die 99 ander net daar laat staan en die een gaan soek tot jy hom kry nie? 5En dan sal jy hom met blydskap op jou skouers huis toe dra. 6Wanneer jy tuis is, sal jy jou vriende en bure roep om saam bly te wees omdat jy jou verlore skaap gevind het. 7Net so sal die hemel blyer wees oor een sondaar wat tot inkeer kom as oor 99 ander wat regverdig is en nie nodig het om tot inkeer te kom nie!”
8“Of veronderstel ’n vrou het tien waardevolle silwermuntstukke en verloor een daarvan. Sal sy nie ’n lamp opsteek en die huis van hoek tot kant uitvee totdat sy dit kry nie? 9En wanneer sy dit kry, roep sy haar vriende en bure om saam bly te wees omdat sy haar muntstuk gevind het. 10Net so is daar blydskap onder God se engele as net een sondaar tot inkeer kom.

11Om dié punt verder te verklaar, het Jesus vir hulle die volgende verhaal vertel:

Jesus

’n Man het twee seuns gehad. 12Die jongste het vir sy pa gesê: ‘Ek wil my deel van die boedel nou hê, eerder as om te wag tot Pa doodgaan.’ Die pa het toe ingestem om sy goed tussen sy twee seuns te verdeel.
13’n Paar dae later het hierdie jonger seun al sy besittings in geld omskep, na ’n ver land gereis, en daar al sy geld verkwis met ’n uitspattige lewe. 14Teen die tyd dat sy geld opgeraak het, het ’n groot hongersnood oor die land gekom en hy het begin honger ly. 15Hy kry toe werk by ’n plaaslike boer en dié het hom die veld ingestuur om varke op te pas. 16Die seun het só honger geword dat selfs die peule wat die varke gevreet het, vir hom smaaklik gelyk het. Maar niemand het hom enigiets gegee om te eet nie.
17Toe hy uiteindelik tot sy sinne kom, het hy vir homself gesê: ‘By die huis het selfs die gehuurde werkers meer as genoeg kos, en hier is ek besig om van honger dood te gaan! 18Ek sal teruggaan na my pa toe en vir hom sê: Pa, ek het gesondig teen die hemel én teen Pa; 19ek is nie langer werd om Pa se seun genoem te word nie. Neem my asseblief in diens as ’n gehuurde werker.’
20Daarop het hy teruggegaan na sy pa toe. En toe hy nog ver weg was, het sy pa hom gesien aankom. Oorweldig met liefde en deernis het hy na sy seun toe gehardloop, hom omhels en gesoen. 21Sy seun het vir hom gesê: ‘Pa, ek het gesondig teen die hemel én teen Pa; ek is nie langer werd om Pa se seun genoem te word nie.’
22Maar sy pa sê vir die bediendes: ‘Gou, bring die mooiste mantel in die huis, en trek dit vir hom aan. Kry ’n ring vir sy vinger, en sandale vir sy voete. 23En slag die vetgemaakte kalf. Ons moet feesvier, 24want hierdie seun van my was dood en hy het nou teruggekeer na die lewe. Hy was verlore, maar nou is hy gevind.’ Toe het hulle begin feesvier.
25Intussen het die ouer seun in die veld gewerk. Toe hy terugkom huis toe, hoor hy musiek en dansery in die huis, 26en hy vra toe een van die bediendes wat aangaan. 27‘Jou broer is terug!’ is vir hom gesê. ‘En jou pa het die vetgemaakte kalf geslag. Ons vier fees omdat hy veilig teruggekom het.’
28Die ouer broer het hom liederlik vererg en wou nie ingaan nie. Sy pa het toe uitgekom en hom gesoebat, 29maar hy het geantwoord: ‘Ek het al die jare hard gewerk vir Pa en nooit geweier om enigiets te doen wat Pa my gesê het om te doen nie. En in al die tyd het Pa my nie eers ’n bokkie gegee om saam met my vriende fees te vier nie. 30Maar toe hierdie seun van Pa terugkom nadat hy Pa se geld op prostitute gemors het, vier Pa fees en slag die beste kalf wat ons het.’
31“Sy pa het vir hom gesê: ‘Kyk, Seun, ek en jy is nog altyd hier bymekaar en alles wat ek het, is tog joune. 32Ons moet hierdie gelukkige dag vier. Want jou broer was dood en het teruggekom na die lewe! Hy was verlore, maar nou is hy gevind!’

imgimg

AFRIKAANS

© 2018 SourceView LLC.
11