Handelinge 18:23-21:16

img

1823Na hy ’n tyd lank in Antiogië gebly het, het hy weer vertrek. Hy het deur die landstreke Galasië en Frigië gereis, en oral die gelowiges geestelik versterk.

24Intussen het Apollos, ’n Jood wat in Aleksandrië gebore is, in Efese aangekom. Hy was ’n begaafde spreker en goed met skrifuitleg. 25Hy het in “Die Pad van die Here” onderrig ontvang en het met brandende geesdrif gepraat en ander noukeurig geleer van Jesus. Hy het egter net die doop van Johannes geken. 26Hy het self met vrymoedigheid in die sinagoge begin preek. Toe Priscilla en Akwila hom hoor, het hulle hom eenkant gevat en vir hom “Die Pad van God” nog duideliker uiteengesit.

27Toe Apollos na Agaje toe wou gaan, het die gelowiges hom aangemoedig. Hulle het vir die gelowiges in Agaje geskryf dat hulle hom moet ontvang. Daar aangekom, het hy baie beteken vir dié wat deur die genade van God gelowig geword het, 28want hy het die Jode in die openbaar kragtig weerlê en met die Skrif bewys dat Jesus die Messias is.

191Terwyl Apollos in Korinte was, het Paulus deur die binnelandse gebiede van Klein-Asië Efese toe gereis. Daar het hy ’n groepie gelowiges gekry. 2Hy het vir hulle gevra:

Paulus

Het julle die Heilige Gees ontvang toe julle begin glo het?

Gelowiges in Efese

Ons het nie eens gehoor dat daar ’n Heilige Gees is nie,

het hulle hom geantwoord.

Paulus

3Met watter doop is julle dan gedoop?

het hy gevra.

Hulle het geantwoord:

Gelowiges in Efese

Met die doop van Johannes.

4Paulus sê toe:

Paulus

Johannes se doop was ’n bevestiging dat ’n mens jou van jou sonde bekeer het tot God. Johannes het self vir die volk gesê hulle moet in Jesus glo, dié Een wat hy gesê het ná hom kom.

5Toe hulle dit hoor, het hulle hulle in die Naam van die Here Jesus laat doop. 6Toe Paulus sy hande op hulle sit, het die Heilige Gees op hulle gekom en hulle het in ander tale gepraat en geprofeteer. 7Altesaam was dit ongeveer twaalf mans.

8Paulus is toe na die sinagoge en hy het daar vir drie maande lank met vrymoedigheid gepreek. Hy het besprekings gehou en oortuigende argumente aangevoer oor die koningsheerskappy van God. 9Party was egter koppig en wou hulle nie laat oortuig nie. Hulle het ook voor die gemeente sleg gepraat van “Die Pad”. Toe het Paulus die sinagoge verlaat en hy het die gelowiges saam met hom gevat. Hy het daagliks in die lesingsaal van Tirannus besprekings gehou.

10So het dit vir die volgende twee jaar gegaan sodat almal in die Romeinse provinsie Asië, Jode sowel as Grieke, die boodskap van die Here gehoor het.

11God het deur Paulus se optrede wonderbaarlike dinge gedoen. 12Selfs wanneer doeke of voorskote wat aan sy vel geraak het, op siekes gesit is, het hulle siektes verdwyn. Selfs bose geeste het uit mense uitgegaan.

13Party rondreisende Joodse geesuitdrywers het ook probeer om die Naam van die Here Jesus te gebruik vir mense wat bose geeste gehad het. Die formule wat hulle probeer het, was:

Sewe Seuns van Skeva

Ek dryf julle uit in die Naam van dié Jesus vir wie Paulus verkondig!

14Hierdie geesuitdrywers was die sewe seuns van ’n senior Joodse priester, Skeva. 15Maar die bose gees het vir hulle gesê:

’n Demoon

Jesus ken ek, en van Paulus weet ek, maar wie’s júlle?

16Die man in wie die bose gees was, spring toe onder hulle in. Hy was te sterk vir hulle en kry die oorhand oor hulle sodat hulle kaal en erg beseer uit daardie huis gevlug het.

17Dié gebeure het bekend geword by al die Jode en Grieke in Efese. ’n Gevoel van diep ontsag het oor hulle almal gekom, en die Naam van die Here Jesus is grootgemaak. 18Baie van dié wat gelowig geword het, het hulle aangemeld en al hulle praktyke openlik bely. 19Heelparty van dié wat toorkunste beoefen het, het hulle toorboeke saamgebring en voor almal verbrand. Die waarde van dié boeke was 50 000 silwermuntstukke. 20So het die woord van die Here kragtig gegroei en sterk geword.

21Hierna het Paulus, deur die Gees gedring, besluit om deur Masedonië en Agaje na Jerusalem te reis.

Paulus

Ná ek daar was,

het hy gesê,

Paulus

moet ek ook Rome sien.

22Hy het twee van sy helpers, Timoteus en Erastus, met ’n mandaat Masedonië toe gestuur; self het hy nog ’n tyd lank in die provinsie Asië gebly.

23Juis in daardie tyd was daar ’n taamlike groot opskudding oor “Die Pad”. 24Dit het begin by ’n silwersmid met die naam Demetrius. Hy het silwer Artemistempeltjies gemaak en vir ambagsmanne ’n beduidende verdienste verskaf. 25Hy roep toe die ambagsmanne en ander wat soortgelyke werk doen, en sê vir hulle:

Demetrius van Efese

Manne, julle weet dat ons voorspoed uit dié bedryf kom. 26En nou sien en hoor julle dat hierdie Paulus ’n beduidende klomp mense van sy standpunt oortuig het, naamlik dat gode wat met die hand gemaak word, glad nie gode is nie. En dit gebeur nie net in Efese nie, maar in byna die hele provinsie Asië! 27Dis nie net ’n geval van ons bedryf wat gevaar loop om sy goeie naam te verloor nie. Die gevaar bestaan ook dat die tempel van die groot godin Artemis, wat die hele Asië én die wêreld as god vereer, as nikswerd beskou word en dat sy van haar grootheid beroof gaan word!

28By die aanhoor hiervan het hulle woede oorgekook en hulle het begin skreeu:

Die ambagsmanne van Efese

Groot is Artemis van die Efesiërs!

29Die hele stad was in rep en roer, en soos een man het die mense amfiteater toe gestorm. Hulle het vir Gaius en Aristargus, albei Masedoniese reisgenote van Paulus, saamgesleep. 30Paulus wou saam met die betogers ingaan, maar die gelowiges wou hom nie toelaat nie. 31Ook het party van die hoë amptenare van die provinsie Asië wat Paulus se vriende was, vir hom ’n boodskap gestuur en hom gewaarsku om dit nie in die amfiteater te waag nie.

32Binne die amfiteater het party dít geskreeu en ander dát. Die vergadering was regtig in die war en die meeste het eintlik nie eers geweet hoekom hulle daar bymekaar was nie.

33Sommige van die Jode het vir Aleksander vorentoe gestoot, en hulle het uit die skare vir hom gesê wat hy moet doen. Hy het met sy hand beduie dat hy iets ter verdediging vir almal wil sê. 34Maar toe hulle agterkom dat hy ’n Jood is, was daar vir byna twee uur lank één kreet van die kant van die skreeuende skare:

Die Mense van Efese

Groot is Artemis van die Efesiërs! Groot is Artemis van die Efesiërs!

35Uiteindelik het die stadsklerk die betogers tot bedaring gebring.

Die Burgemeester van Efese

Geagte Efesiërs,

het hy gesê,

Die Burgemeester van Efese

daar is verseker geen mens wat nie weet dat die stad Efese die tempelbeskermer is van die groot Artemis, wie se beeld hier by ons uit die hemel geval het nie! 36Dít staan soos ’n paal bo water. Bedaar dus en moenie iets oorhaastigs doen nie.
37Julle het hierdie mans hierheen gebring, alhoewel hulle nie iets uit ons tempel gesteel of ons godin beledig het nie. 38As Demetrius en sy ambagsmanne dus ’n klag teen iemand het – hofsittings word gehou en daar is goewerneurs. Laat hulle mekaar daar gaan aankla. 39En as julle verdere klagtes het, moet die saak op ’n wettige volksvergadering ter tafel gebring word. 40Ons loop eerlikwaar gevaar om oor vandag se gebeure van opstand aangekla te word. Daar is geen gronde vir hierdie betoging nie, en ons kan dit nie verantwoord nie.

Hiermee het hy die vergadering verdaag.

201Met die betoging verby, het Paulus die gelowiges bymekaargeroep en hulle moed ingepraat. Daarna het hy hulle gegroet en Masedonië toe vertrek. 2Op sy reis daarheen het hy die gelowiges met baie preke bemoedig. Hy kom toe in Griekeland aan 3waar hy drie maande deurgebring het. Toe hy op die punt gestaan het om Sirië toe te vaar, het ’n komplot teen hom aan die lig gekom. Hy het toe besluit om landlangs deur Masedonië na Sirië toe terug te gaan.

4Heelwat mans het saam met Paulus gereis. Hulle was Pirrus se seun Sopater van Berea, Aristargus en Sekundus, albei van Tessalonika, Gaius van Derbe, Timoteus, en Tigikus en Trofimus, albei van die provinsie Asië. 5Hulle het vooruit gegaan en in Troas vir ons gewag.

6Na die Pasga het ons per skip van Filippi af vertrek en vyf dae later by hulle in Troas aangekom. Daar het ons ’n week gebly.

7Ons het die Sondag bymekaargekom vir die maaltyd van die Here. Paulus het ’n bespreking met hulle gehou, en omdat hy die volgende dag wou vertrek, het hy tot middernag aanhou praat. 8Daar was taamlik baie lampe in die bovertrek waar ons vergader het.

9Terwyl Paulus aanhou en aanhou met die bespreking, het ’n jong man met die naam Eutigus, wat op die vensterbank gesit het, in ’n diep slaap begin wegsink. Vas aan die slaap het hy uit die derde verdieping tot onder geval. Hulle het hom as ’n lyk opgetel. 10Paulus het ondertoe gegaan, op Eutigus gaan lê, sy arms om hom gesit en gesê:

Paulus

Moenie julle ontstel nie. Hy lewe!

11Paulus het weer boontoe gegaan, brood gebreek en geëet. Hy het nog ’n hele ruk met hulle gepraat, tot dagbreek toe, en toe vertrek. 12Die mense het die seun lewend huis toe gevat. Dit was vir hulle ’n buitengewoon bemoedigende ervaring.

13Paulus is landlangs Assus toe, maar ons is vooruit na die skip toe en het na Assus gevaar, waar Paulus afgespreek het dat hy aan boord sou gaan. 14Hy het ons daar gekry; ons het hom aan boord geneem en Mitilene toe gevaar.

15Die volgende dag het ons by Chios verbygevaar. Die dag daarna het ons by Samos aangedoen, en nog ’n dag later het ons Milete bereik. 16Paulus het reeds voorheen besluit om by Efese verby te vaar sodat hy nie nog langer in die provinsie Asië tyd hoef deur te bring nie. Hy was haastig om, as dit kon, op Pinksterdag in Jerusalem te wees. 17Maar Paulus het van Milete af ’n boodskap na Efese toe gestuur om die ouderlinge van die gemeente te ontbied.

18Toe hulle by hom kom, sê hy vir hulle:

Paulus

Júlle weet dat ek die hele tyd, van die eerste dag af dat ek in die provinsie Asië gekom het, 19die Here met my hele wese in alle nederigheid gedien het, en dat dit met trane gepaardgegaan het. Dan was daar ook die beproewings wat oor my gekom het vanweë die komplotte van sommige Jode. 20Julle weet ook dat ek nooit weggeskram het van die waarheid toe ek by julle gepreek en julle in die openbaar en in julle huise onderrig het nie. 21Ek het één boodskap vir Jode én Grieke gehad: dat hulle hulle tot God moet bekeer en in ons Here Jesus moet glo.
22En nou is ek op pad Jerusalem toe, gebind deur die Gees. Wat dáár met my gaan gebeur, weet ek nie. 23Wat ek wel weet, is dat die Heilige Gees my in elke stad verseker dat gevangenskap en vervolging voorlê. 24Al is my lewe kosbaar, ag ek dit van geen waarde as ek nie my lewenstaak en my bediening wat ek van die Here Jesus gekry het, kan klaarmaak nie: Om die Goeie Nuus te verkondig dat God mense liefhet sonder dat hulle iets hoef te doen om dit te verdien.
25En nou is dit duidelik: Ek weet dat nie een van julle my weer sal sien nie – julle onder wie ek rondgegaan en die koningsheerskappy van God verkondig het. 26Daarom stel ek dit vandag duidelik aan julle dat dit nie my skuld is as enigeen van julle verlore gaan nie, 27want ek het nie weggeskram daarvan om die volle plan van God aan julle te verkondig nie.
28Pas julleself op en die hele kudde oor wie die Heilige Gees julle as ouderlinge aangestel het. Julle moet as herders die kerk van God versorg, dié kerk wat Hy vir Hom verkry het deurdat sy eie Seun gesterf het. 29Self weet ek dat daar ná my vertrek wrede wolwe onder julle sal indring, en hulle sal die kudde nie spaar nie. 30Selfs uit julle eie geledere sal daar mense na vore kom wat, deur verdraaide dinge te verkondig, die gelowiges sal probeer verlei om hulle te volg. 31Daarom: Wakkerloop! Onthou dat ek vir drie jaar lank sonder ophou vir elkeen van julle die regte koers aangedui het, dag en nag, en met trane.
32En nou vertrou ek julle aan God toe en aan die boodskap van die genade wat Hy aan mense bewys. Dié boodskap is in staat om julle op te bou en julle in die seëninge te laat deel wat Hy aan al die gelowiges as erfporsie belowe het.
33Ek het niemand se silwer of goud of klere begeer nie. 34Julle weet self dat hierdie twee hande van my voorsien het in my behoeftes en in die behoeftes van dié wat saam met my was. 35In alles het ek vir julle ’n voorbeeld gestel dat ons só hard moet werk dat ons die armes kan help. Onthou die woorde van die Here Jesus: ‘Dit is meer geseënd om te gee as om te ontvang.'

36Toe Paulus klaar gepraat het, het hy saam met hulle almal gekniel en gebid. 37Almal het baie gehuil en Paulus omhels en hom gesoen. 38Hulle was veral hartseer oor sy stelling dat hulle hom nie weer sou sien nie. Toe het hulle hom skip toe gevat.

211Nadat ons van die Efese-ouderlinge afskeid geneem het, het ons reguit na die eiland Kos gevaar. Die volgende dag is ons na Rodos en daarvandaan na Patara. 2Toe het ons ’n skip gekry na Fenisië. 3Ons het die eiland Siprus in sig gekry en is Sirië toe terwyl ons Siprus aan ons linkerkant verbygevaar het. In Tirus het ons afgeklim, want die skip moes sy vrag daar aflaai. 4Ons het die gelowiges daar opgesoek en sewe dae gebly. Deur die Gees gedring het hulle vir Paulus gesê om nie Jerusalem toe te gaan nie. 5Ná ’n week moes ons vertrek en verder reis. Die hele gemeente, vroue en kinders ingesluit, is saam met ons strand toe, buitekant die stad. Daar het ons gekniel en gebid 6en mekaar gegroet. Ons het toe aan boord gegaan, en hulle is terug huis toe.

7Ons het van Tirus af die seereis voortgesit na Ptolemaïs. Daar het ons die gelowiges gegroet en ’n dag by hulle gebly. 8Die volgende dag het ons vertrek en in Sesarea aangekom. Ons het by die evangelis Filippus, een van die sewe, tuisgegaan. 9Hy het vier ongetroude dogters gehad met die gawe om te profeteer.

10Ons was reeds ’n hele paar dae daar toe ’n profeet met die naam Agabus van Judea af daar aankom. 11Toe hy ons kom opsoek, het hy Paulus se belt gevat en sy eie voete en hande daarmee vasgebind. Toe sê hy:

Agabus die Profeet

Só sê die Heilige Gees: ‘Die man wie se belt dit is hierdie – die Jode in Jerusalem sal hom net so vasbind en hom in die hande van nie-Jode uitlewer.’

 12Toe ons dit hoor, het ons en die plaaslike gelowiges Paulus gesmeek om nie Jerusalem toe te gaan nie.

13Sy reaksie was egter:

Paulus

Waarom wil julle my hart sag maak met julle huilery? Julle weet mos ek is bereid om ter wille van die Naam van die Here Jesus nie net in Jerusalem gevange geneem te word nie, maar selfs ook te sterf. 14Toe hy nie tot ander insigte gebring kon word nie, het ons met dié woorde berus: “Laat dan die wil van die Here geskied.

15Hierna het ons opgepak en Jerusalem toe vertrek.

16Party van die gelowiges het van Sesarea af saam met ons gegaan. Hulle het ons na Mnason toe gevat, wat oorspronklik van Siprus afkomstig was, en wat reeds van vroeg af ’n gelowige was. By hom sou ons tuisgaan.

imgimg

AFRIKAANS

© 2018 SourceView LLC.
11