22:1-22:71

img

221Die Fees van die Ongesuurde Brood, wat ook Pasga genoem word, was baie naby. 2Die priesterhoofde en die skrifkenners het steeds bly soek na ’n onopvallende manier om van Jesus ontslae te raak, want hulle was bang vir die volk.

3Satan het in Judas ingevaar wat Iskariot genoem is, een van die twaalf. 4Hy het toe weggegaan om te onderhandel met die priesterhoofde en die bevelvoerders van die tempelwag oor hoe hy Jesus aan hulle sou uitlewer. 5Hulle was opgewonde en het ooreengekom om geld aan hom te gee. 6Judas het ten volle ingestem en na ’n gunstige geleentheid gesoek om Jesus uit te lewer waar die skares nie teenwoordig is nie.

7Die Dag van die Ongesuurde Brood waarop die paaslam geslag moes word, het aangebreek. 8Jesus het vir Petrus en Johannes gestuur en gesê:

Jesus

Gaan maak die paasmaaltyd gereed sodat ons kan kom aansit.

9Hulle vra toe vir Jesus:

Simon Petrus & Johannes die Dissipel

Waar verkies U dat ons dit voorberei?

10Hy antwoord hulle:

Jesus

Kyk, wanneer julle die stad binnegaan, sal ’n man julle teëkom wat ’n kan water dra. Volg hom tot in die huis waar hy ingaan, 11en sê vir die eienaar van die huis: ‘Die Leermeester vra jou: Waar is die gastekamer waar Ek saam met my dissipels die paasmaaltyd kan eet?’ 12Daardie man sal julle ’n groot bovertrek wys wat gereedgemaak is. Daar moet julle dit voorberei.

13Hulle het vertrek en dit net so aangetref soos Jesus vir hulle gesê het en die paasete gereed gekry.

14Toe die tyd aangebreek het, het Jesus vir die ete aangesit en die apostels saam met Hom. 15Hy sê toe vir hulle:

Jesus

Ek het geweldig daarna uitgesien om hierdie paasete saam met julle te eet voordat Ek ly. 16Want Ek sê vir julle, Ek sal dit beslis nie weer eet voordat dit binne die koninkryk van God sy volle vervulling gekry het nie.

17Daarna het Jesus ’n beker geneem en ’n dankgebed uitgespreek. Vervolgens sê Hy:

Jesus

Neem dit en deel dit onder mekaar. 18Want Ek sê vir julle, Ek sal beslis van nou af nie weer van die vrug van die druiwestok drink voordat die koninkryk van God ten volle gekom het nie.

19Jesus het ook brood geneem, ’n dankgebed uitgespreek, dit in stukke gebreek en vir hulle gegee terwyl Hy sê:

Jesus

Dit is my liggaam wat ter wille van julle gegee word. Gebruik dit ter herinnering aan My.

20Hy het dieselfde gedoen met die beker ná die ete en gesê:

Jesus

Hierdie beker is die nuwe verbond, bevestig deur my bloed, wat ter wille van julle uitgegiet word.
21“Maar kyk, die man wat My uitlewer, is hier saam met My aan die tafel. 22Met die Seun van die Mens sal dit inderdaad gaan volgens die beskikking van God, maar groot ellende wag op hom deur wie Hy uitgelewer word!

23Toe het die dissipels mekaar begin uitvra wie van hulle dit tog kon wees wat só iets sou doen.

24Daar het toe ’n wedywering onder hulle ontstaan oor wie van hulle as die belangrikste beskou moet word.

25Jesus het egter gereageer:

Jesus

Die konings van die nasies heers oor hulle, en dié wat gesag oor hulle uitoefen, laat noem hulleself weldoeners.
26By julle moet dit egter nie só gaan nie, maar die belangrikste een onder julle moet wees soos die geringste, en die een wat leiding gee, soos een wat dien. 27Wie is die belangrikste: die een wat aan tafel is of die een wat bedien? Dit is tog hy wat aan tafel is. Ek is egter in julle midde soos een wat dien. 28Maar julle is die mense wat deur dik en dun in my swaarkry by My gebly het.
29Net soos my Vader ’n koninkryk aan My toegewys het, só bemaak Ek dit ook aan julle 30sodat julle in my koninkryk kan eet en drink aan my tafel en kan sit op trone om oor die twaalf stamme van Israel reg te spreek.
31Simon, Simon!

het Jesus gesê.

Jesus

Let op, Satan het God ernstig gevra dat hy julle soos koring kan sif, 32maar Ek het vir jou gebid dat jou geloof jou nie moet begewe nie. As jy weer tot inkeer gekom het, moet jy jou medegelowiges ondersteun.

33Petrus sê vir Jesus:

Simon Petrus

Here, ek is gereed om saam met U die pad te loop tot in die gevangenis en die dood.

34Jesus het egter gereageer:

Jesus

Petrus, Ek sê dit nou vir jou: ’n Haan sal vannag nie kraai voordat jy drie maal ontken het dat jy My ken nie.

35Jesus het ook vir hulle gesê:

Jesus

Toe Ek julle uitgestuur het sonder ’n geldbeurs of reissak of sandale, het julle enigiets kortgekom?

Hulle antwoord was:

Die Dissipels

Nee, niks nie!

36Toe sê Jesus vir hulle:

Jesus

Maar nou, wie ’n geldbeurs besit, moet dit saamneem; net so ook ’n reissak. En wie nie een het nie, moet sy klere verkoop om ’n swaard te kan koop.
37Ek sê vir julle: Dit staan so in die Skrif en moet in My vervul word: ‘Hy is saam met die wetteloses gereken.’ Ja, want wat op My betrekking het, word nou voltrek.

38Hulle sê toe daarop:

Die Dissipels

Here, let op, hier is twee swaarde.

Hy sê vir hulle:

Jesus

Dis genoeg.

39Jesus het uit die stad gegaan na die Olyfberg, soos Hy gewoond was om te doen. En die dissipels het Hom gevolg. 40Toe Hy op ’n sekere plek kom, sê Hy vir hulle:

Jesus

Hou aan bid dat julle nie aan versoeking sal toegee nie.

41Jesus het Hom toe van hulle afgesonder, ongeveer ’n klipgooi ver. Daar het Hy gekniel en gebid:

Jesus

42Vader, as U wil, neem hierdie beker van My af weg. Laat nogtans nie my wil nie, maar u wil geld!

43Daar het ’n engel uit die hemel aan Jesus verskyn en Hom versterk. 44Terwyl Hy intense angs beleef, het Jesus nog ernstiger gebid. Sy sweet het soos druppels bloed geword wat op die grond drup. 45Nadat Jesus van die gebed opgestaan en by die dissipels gekom het, kry Hy hulle aan die slaap, gedreineer deur die hartseer.

46Hy sê toe vir hulle:

Jesus

Waarom is julle aan die slaap? Staan op en bid dat julle nie aan versoeking sal toegee nie.

47Terwyl Jesus nog besig was om te praat, het ’n skare daar bymekaargekom. Die man wat Judas genoem word, een van die twaalf, het voor die mense uit geloop en al nader aan Jesus gekom om Hom te soengroet.

48Jesus het gereageer:

Jesus

Judas, lewer jy die Seun van die Mens uit met ’n soen?

49Toe dié wat saam met Jesus daar was, besef wat met Hom gaan gebeur, vra hulle:

Elf Dissipels

Here, moet ons hulle met die swaard tref?

50Een uit hulle geledere het toe na die slaaf van die hoofpriester gekap en sy regteroor afgekap.

51Maar Jesus het gereageer:

Jesus

Hou dadelik op hiermee!

Daarna het Hy die oor aangeraak en dit gesond gemaak.

52Jesus het toe aan die priesterhoofde en die bevelvoerders van die tempelwag en die familiehoofde wat teen Hom aangetree het, gesê:

Jesus

Het julle opgetrek met swaarde en knuppels soos teen ’n rower? 53Ek was daagliks saam met julle in die tempel, en tog het julle My nie gearresteer nie. Maar hierdie is nou júlle tyd, die tyd van die mag van die duisternis.

54Nadat hulle Jesus gearresteer het, het hulle Hom weggelei en in die huis van die hoofpriester ingebring. Petrus het op ’n afstand gevolg. 55In die middel van die binnehof was daar ’n vuur wat knetterend gebrand het, met mense wat daar rondom sit. Petrus het tussen hulle gaan sit. 56’n Diensmeisie het hom raakgesien waar hy sigbaar in die vlammegloed gesit het. Nadat sy hom goed bekyk het, sê sy:

’n Diensmeisie

Hý was ook saam met daardie man.

57Petrus het dit egter heftig ontken:

Simon Petrus

Vrou, ek ken Hom glad nie!

58’n Rukkie later merk iemand anders hom op en sê:

Bystaanders by die Verhoor

Hy is mos ook uit hulle geledere.

Petrus se reaksie was:

Simon Petrus

Man, ek is beslis nie!

59Ná ’n tussenpose van ongeveer ’n uur het ’n ander persoon ferm bevestig:

Bystaanders by die Verhoor

Hierdie man was vir seker saam met hom. Hy is tog ook ’n Galileër.

60Petrus het geantwoord:

Simon Petrus

Man, ek het nie die vaagste benul waarvan jy praat nie!

Eensklaps, terwyl hy nog besig is om te praat, het daar ’n haan gekraai.

61Die Here het omgedraai en Petrus stip aangekyk. Petrus het die Here se woorde onthou toe Hy aan hom gesê het: “Voordat die haan nog vannag kraai, sal jy drie keer ontken dat jy My ken.”

62En hy het buitentoe gegaan en onbedaarlik gehuil.

63Die soldate wat Jesus bewaak het, het Hom gekoggel en geslaan. 64Hulle het Hom geblinddoek en aanhou sê:

Die Tempel Wagte

Profeteer wie dit is wat jou geslaan het!

65Hulle het Hom bly laster deur baie ander dinge teen Hom kwyt te raak.

66Toe die nuwe dag breek, het die volksleiers, dit is die priesterhoofde en skrifkenners, saamgekom en hulle het Jesus voor hulle Raad gebring. 67Hulle sê toe:

Joodse Leiers

As jy die Messias is, sê dit vir ons.

Hy het hulle geantwoord:

Jesus

As Ek dit vir julle sou sê, sal julle My glad nie glo nie. 68Al sou Ek ook ’n vraag stel, sal julle glad nie antwoord nie. 69Maar van nou af sal Ek, die Seun van die Mens, aan die regterhand van die sterke God sit.

70Toe vra hulle almal:

Joodse Leiers

Is jy dan die Seun van God?

Hy antwoord hulle:

Jesus

Dit is soos julle sê – Ek is.

71Die reaksie was:

Joodse Leiers

Waarom het ons dan nog getuienis nodig? Ons het dit mos nou self uit sy eie mond gehoor!

imgimg

AFRIKAANS

© 2018 SourceView LLC.
11