23:1-24:53

img

231Die hele vergadering het opgestaan en Jesus voor Pilatus gebring. 2Hulle het die klag teen Hom begin voorlê:

Joodse Leiers

Ons het bevind dat hierdie man ons volk opsweep; hy verbied hulle om belasting aan die keiser te betaal, terwyl hy beweer dat hy self die Messias, die Koning is.

3Pilatus het Hom toe gevra:

Pontius Pilatus

Is jy die Koning van die Jode?

Jesus het hom geantwoord:

Jesus

Dit is soos u sê.

4Daarop het Pilatus aan die priesterhoofde en die skare gesê:

Pontius Pilatus

Ek vind niks krimineels aan hierdie man nie.

5Hulle het opgesweep geraak en aanhou roep:

Joodse Leiers

Hy hits deur sy onderrig die volk deur die hele Judea aan. Hy het in Galilea begin en nou is hy ook hier.

6Toe Pilatus dit hoor, het hy probeer uitvind of die man dan ’n Galileër is. 7Nadat hy hom daarvan vergewis het dat Jesus wel uit dié gebied afkomstig is wat onder Herodes se beheer val, het hy Jesus na Herodes toe gestuur, wat juis gedurende daardie tyd in Jerusalem was.

8Herodes was baie opgewonde om Jesus te sien. Hy het al vir ’n lang tyd die begeerte gehad om Jesus te sien omdat hy al soveel van Hom gehoor het. Hy het ook gehoop om te sien hoe Jesus die een of ander wonderteken verrig. 9Hy het Jesus vraag op vraag gevra, maar Hy het hom niks geantwoord nie.

10Die priesterhoofde en die skrifkenners het daar gestaan en Jesus heftig beskuldig. 11Herodes, saam met sy soldate, het Jesus met veragting bespot. Hy het Hom ’n blink kleed aangetrek en Jesus teruggestuur na Pilatus toe. 12Op daardie dag het Herodes en Pilatus mekaar se vriende geword, want vroeër was hulle vyande.

13Daarna het Pilatus die priesterhoofde en die volksleiers bymekaargeroep 14en aan hulle gesê:

Pontius Pilatus

Julle het hierdie man voor my gebring as iemand wat die volk opgesweep het om te rebelleer. Ek het hom voor julle oë ondervra en ek het geen gronde gekry vir die aanklag waarvan julle hom beskuldig nie. 15Herodes het ook nie gronde gekry nie, want hy het hom teruggestuur na ons toe. Let ook daarop, Jesus het niks gedoen wat die doodstraf verdien nie. 16Nadat ek hom laat gésel het, sal ek hom vrylaat.

18Hulle het dit egter saam met die menigte uitgekreet:

Die Skare

Weg met hom! Laat Barabbas vir ons los!

19(Barabbas was in die tronk gegooi oor ’n oproer in die stad en oor ’n moord.) 20Pilatus het weer met hulle gaan redeneer omdat hy Jesus wou vrylaat, 21maar hulle het dit bly uitkreet:

Die Skare

Kruisig, kruisig hom!

22Vir die derde keer sê Pilatus vir hulle:

Pontius Pilatus

Watter kwaad het hierdie man gedoen? Ek het in hom geen gronde vir die doodstraf gekry nie. Ek sal hom laat gésel en dan vrylaat.

23Die mense het egter met oorverdowende stemme aanhou roep en eis dat Jesus gekruisig moes word. Hulle geskree het die oorhand gekry. 24Pilatus het daarop besluit dat hulle versoek uitgevoer moes word. 25Hy het die man wat as gevolg van ’n opstand en moord in die tronk gegooi was, vrygelaat soos hulle geëis het, maar vir Jesus het hy volgens hulle wens uitgelewer.

26Terwyl hulle besig was om Jesus weg te lei, het hulle ene Simon van Sirene, wat van die veld af gekom het, geforseer om die kruis agter Jesus aan te dra. 27’n Groot menigte van die volk het Jesus gevolg, ook vroue wat op hulle bors geslaan en oor Hom gehuil het.

28Jesus het na hulle toe gedraai en gesê:

Dogters van Jerusalem, moenie oor Mý huil nie; huil liewer oor julleself en julle kinders 29omdat daar dae kom wanneer mense sal sê: ‘Gelukkig is die onvrugbare vroue en die moederskote wat nog nie ’n kind in die wêreld gebring het nie, sowel as die borste wat nog nooit gevoed het nie.’ 30Dan sal mense aan die berge sê:
‘Val op ons!’
en aan die heuwels:
‘Bedek ons!’
31As hulle hierdie dinge aan ’n groen boom doen, wat sal dan met die droë gebeur?

32Twee ander misdadigers is ook saam met Jesus weggelei om tereggestel te word. 33Toe hulle by die plek aankom wat Kopbeen genoem word, het hulle Jesus daar gekruisig, asook die misdadigers – een aan Jesus se regter- en een aan sy linkerkant.

34Daarop het Jesus gesê:

Jesus

Vader, vergewe hulle, want hulle besef nie wat hulle doen nie!

Hulle het ook sy klere verdeel deur die lot te werp.

35Die volk het net daar gestaan en toekyk. En die leiers het aangehou om Hom te bespot met dié woorde:

Joodse Leiers

Ander het hy gered. Laat hy homself red as hy die Messias, die uitverkorene van God is!

36Ook die soldate het vorentoe beweeg en Jesus gespot. Hulle het vir Hom asynwyn aangebied 37en gesê:

Joodse Leiers

As jy die Koning van die Jode is, red jouself.

38Daar was ook ’n kennisgewing bokant Jesus se kop: “Hierdie man is die Koning van die Jode.”

39Een van die misdadigers wat daar gehang is, het Jesus aanhou beledig deur te sê:

Die Onbekeerde Dief

Is jy dan nie die Messias nie? Red jouself en ook vir ons!

40Die ander een het hom egter bestraf en gesê:

Die Bekeerde Dief

Het jy óók nie respek vir God nie, alhoewel jy dieselfde straf as hierdie man ondergaan! 41Ons het dit terdeë verdien, want ons verdien die straf vir wat ons gedoen het. Maar hierdie man het niks verkeerds gedoen nie.

42Hy het verder gesê:

Die Bekeerde Dief

Jesus, onthou my asseblief wanneer U in u koninkryk kom.

43Jesus se antwoord was:

Jesus

Ek verseker jou, vandag nog sal jy saam met My in die paradys wees.

44Teen ongeveer twaalfuur het duisternis toegesak oor die hele land tot drie-uur toe. 45Die son is uitgedoof en die swaar gordyn van die tempel het middeldeur geskeur. 46Met ’n harde stem het Jesus uitgeroep:

Jesus

Vader, in u hande gee Ek my gees oor!

Nadat Hy dit gesê het, het Hy sy asem uitgeblaas.

47Toe die Romeinse offisier oor honderd sien wat gebeur, het hy God geloof en gesê:

’n Romeinse Offisier

Hierdie man was werklikwaar regverdig.

48Die hele skare wat saamgedrom het vir hierdie skouspel en gesien het wat alles gebeur het, het as teken van rou op hulle bors geslaan en huis toe gegaan. 49Maar Jesus se vriende, asook die vroue wat Hom van Galilea af gevolg het, het op ’n afstand bly staan en al hierdie dinge aanskou.

50Daar was ’n man met die naam Josef, ’n lid van die Joodse Raad, ’n goeie en regverdige man. 51Hy het nie vrede gehad met hulle besluite en optrede nie. Hy het van die Joodse dorp Arimatea af gekom en het uitgesien na die koninkryk van God. 52Hierdie man het na Pilatus toe gegaan en Jesus se liggaam gevra. 53Nadat hy die liggaam afgehaal het, het hy dit in linne toegebind en in ’n rotsgraf gaan neerlê waarin niemand nog ooit begrawe was nie. 54Dit was die Vrydagmiddag laat, die tyd van voorbereiding vir die naderende Sabbat.

55Die vroue wat saam met Jesus van Galilea af gekom het, het Josef gevolg en die rotsgraf gesien, asook hoe sy liggaam daarin neergelê word. 56Daarna het hulle teruggegaan huis toe om die aromatiese olie en speserye te gaan voorberei.

241Douvoordag op die Sondagoggend het die vroue na die graf toe gegaan met die aromatiese olie wat hulle voorberei het.

2Daar aangekom, kry hulle die steen weggerol van die ingang van die grotgraf af. 3Hulle het ingegaan, maar nie die liggaam van die Here Jesus daar gekry nie. 4Hulle was heeltemal uit die veld geslaan daaroor.

Skielik staan daar tussen hulle twee mans met helder blink klere aan. 5Die vroue was verskrik en het hulle gesigte afgebuig grond toe. Die mans sê vir hulle:

Twee Engele

Waarom soek julle die lewende tussen die lyke? 6Hy is nie meer hier nie, maar is opgewek. Onthou julle hoe Hy met julle gepraat het toe Hy nog in Galilea was en gesê het: 7‘Die Seun van die Mens moet oorgelewer word in die hande van sondige mense, gekruisig word en op die derde dag weer opstaan’?

8Hulle het toe sy woorde onthou, 9en teruggedraai van die graf af en al hierdie dinge aan die elf en al die ander vertel. 10Die vroue was Maria Magdalena, Johanna, Maria, die ma van Jakobus, en die ander vroue saam met hulle. Hulle het hierdie dinge aan die apostels gaan vertel, 11maar vir laasgenoemdes het hierdie dinge soos kletspraatjies geklink en hulle het die vroue nie geglo nie.

12Petrus het egter opgespring en na die graf toe gehardloop. Toe hy buk om in te loer, sien hy net die linnedoeke. Verbaas oor wat gebeur het, is hy terug huis toe.

13En kyk, op dieselfde dag was twee uit hulle geledere op pad na ’n dorpie met die naam Emmaus, elf kilometer vanaf Jerusalem. 14Hulle was druk in gesprek met mekaar oor al hierdie dinge wat gebeur het. 15Terwyl hulle nog so loop en gesels en dinge probeer ontrafel, het Jesus self nadergekom en saam met hulle verder geloop. 16Hulle oë is egter verhinder om Hom te herken.

17Hy sê toe vir hulle:

Jesus

Oor watter sake loop julle só ernstig en redeneer?

Met somber gesigte het hulle gaan stilstaan. 18Een van hulle wat Kleopas genoem word, antwoord Jesus toe:

Kleopas

U is seker die enigste buitelander in Jerusalem wat nie kennis dra van al die dinge wat gedurende hierdie dae in die stad gebeur het nie.

19Jesus reageer en vra hulle:

Jesus

Watter dinge?

Hulle antwoord Hom:

Kleopas & Kleopas se Metgesel

Dié dinge wat gaan oor Jesus van Nasaret. Hy was ’n profeet, kragtig in woord en daad voor God en die hele volk. 20Maar die priesterhoofde en ons volksleiers het Hom uitgelewer om tot die dood veroordeel en gekruisig te word. 21Ons het bly hoop dat dit Hy is wat Israel gaan verlos. Maar dit is ook al vandag die derde dag vandat al hierdie dinge gebeur het. 22Sommige vroue uit ons geledere het ons nog boonop heeltemal verwar. Hulle was vanoggend baie vroeg by die graf, 23maar kon nie sy liggaam daar kry nie. Hulle het kom berig dat hulle ’n visioen van engele gesien het wat gesê het dat Hy lewe. 24Sommige van ons het na die graf toe gegaan en dit net so aangetref soos die vroue vertel het. Maar vir Hóm het hulle nie gesien nie.

25Toe sê Jesus vir hulle:

Jesus

O, hoe sonder begrip en traag van hart is julle om alles wat die profete gesê het, te glo! 26Moes die Messias nie hierdie dinge ly om sy heerlikheid in te gaan nie?

27Hierna het Jesus begin om vanaf Moses en al die profete al die Skrifgedeeltes wat oor Hom handel, vir hulle te interpreteer.

28Toe hulle naderkom aan die dorpie waarheen hulle op pad was, het Jesus voorgegee dat Hy verder wil reis. 29Maar hulle het by Hom aangedring:

Kleopas & Kleopas se Metgesel

Bly by ons oor. Die son trek al water en die dag is verby.

Toe het Jesus by hulle ingedraai om saam met hulle oor te bly. 30Terwyl hulle saam met Hom aan tafel was, het Jesus brood geneem, gedank, dit gebreek en aan hulle gegee. 31Toe het hulle oë oopgegaan en hulle het Hom herken. Daarop het Hy voor hulle oë verdwyn.

32Hulle sê toe vir mekaar:

Kleopas & Kleopas se Metgesel

Was ons harte nie vuur en vlam in ons toe Hy met ons op pad gepraat en die Skrif vir ons geïnterpreteer het nie?

33Hulle het daar en dan opgestaan en na Jerusalem toe teruggegaan en die elf aangetref en die ander saam met hulle, 34wat die nuus vertel:

Elf Dissipels

Die Here is regtig opgewek, en Hy het aan Simon verskyn!

35Toe vertel hulle wat op pad gebeur het en hoe Hy aan hulle bekend geword het by die breek van die brood.

36Terwyl hulle nog besig was om hierdie dinge te bespreek, het Jesus onverwags tussen hulle gestaan en vir hulle gesê:

Jesus

Vrede vir julle!

37Hulle het groot geskrik en beangs geword en gedink dat hulle ’n spook sien. 38Hy sê toe vir hulle:

Jesus

Waarom is julle so verward en waarom kom daar twyfelgedagtes in julle harte op? 39Kyk na my hande en my voete: Dis mos Ek self. Vat aan My en kyk! ’n Spook het tog nie vleis en bene soos julle kan sien dat Ek het nie.

40Terwyl Hy dit sê, wys Hy vir hulle sy hande en voete.

41Toe hulle vanweë blydskap en verbasing nog nie glo nie, sê Hy vir hulle:

Jesus

Het julle miskien iets te ete hier?

42Daarop gee hulle aan Hom ’n stuk gebakte vis. 43Hy het dit geneem en in hulle teenwoordigheid opgeëet.

44Daarna het Hy vir hulle gesê:

Jesus

Toe Ek nog saam met julle was, het Ek aan julle verduidelik dat alles wat in die wet van Moses en in die profete en die psalms oor My geskryf is, vervul moet word.

45Toe het Hy hulle verstand geopen om die Skrifte te verstaan. 46Daarop het Hy gesê:

Jesus

Só staan dit opgeteken: ‘Die Messias moet ly en op die derde dag opstaan uit die dood.’ 47-48En op grond van sy Naam moet bekering tot vergifnis van sondes aan al die nasies verkondig word. Julle moet by Jerusalem begin en van hierdie dinge getuig.
49En kyk, Ek sal die belofte van my Vader aan julle stuur. Julle moet in die stad bly totdat julle van God af met krag bemagtig is.

50Daarna het Jesus hulle uitgelei tot by Betanië. En Hy het sy hande opgehef en hulle geseën. 51Terwyl Hy nog besig was om hulle te seën, het Hy van hulle af weggegaan en is Hy in die hemel opgeneem.

52Hulle het toe neergeval en Hom aanbid. Daarna het hulle met groot vreugde teruggegaan na Jerusalem toe. 53Daar het hulle al hulle tyd in die tempel deurgebring en God geloof.

imgimg

AFRIKAANS

© 2018 SourceView LLC.
11